Donderdagaand 19 April 2012

Met my aankoms by die D&V sentrum wag daar twee fietsryers, maar hulle
belowe daar is nog twee op pad. Die twee daag toe op maar Ninja Padfietser
het sy skoene by die huis vergeet en sien nie kans om met sy plakkies te ry
nie. Nou ja, vier is marginaal, maar ons besluit om dit tog te doen en
spring weg met Kruiser.

Daarna af na Nellmapius waar ons enkele D&V maagd iets tref wat sy band
sleg sny. 'n Binneband word gou ingesit, maar Tiaan besluit dat dit 'n
teken is dat hy nie verder moet ry nie. Ompraat werk nie en ons roep hom
naby die begin vaarwel toe en die drie van ons gaan voort na die onderste
deel van Mieliemuur. Niemand is juis lus vir die spoedseksie na die
stopstraat toe nie en daarna mis ons amper die paadjie na Blair-heks woud
nadat ons deur 'n hele paar poele as gevolg van die middag se reƫnbui gery
het.

Beurend op na die Rietvlei substasie en af aan die ander kant en daarna die
lus deur die veld langs die R21. Sal ons ook volgende maand moet tolgeld
betaal as ons langs die R21 ry? Die enigste gebeurtenis is 'n ontmoeting
met 'n man met 'n geweer in die hand. Hy is gelukkig nie 'n bedreiging nie;
hy probeer kabeldiewe vastrek.

Terug ry ons deur Vlermuis-tonnel en aan die ander kant van die R21 waar
die gras lekker lank is en mens so naastenby op ekstrasensoriese persepsie
moet ry. En dis net daar waar ek nie die lemmetjiesdraad gewaar voor dit my
aan die enkel gryp nie. Behalwe vir die rooi lekke in my been en my kous
wat afgeskryf is, het ek darem oorleef.

Roeter se roete, teerpad en Mieliemuur op sluit die rit af en 'n heel
gesellige aand van dertig plus kilometer se ry.

Oupa Gert

-- 
You received this message because you are subscribed to the Google Groups 
"DarkAndDirty" group.
To post to this group, send email to [email protected].
To unsubscribe from this group, send email to 
[email protected].
For more options, visit this group at 
http://groups.google.com/group/darkanddirty?hl=en.

Reply via email to