Vier bergfietsryers is in twee afsonderlike voorvalle voor en tydens ’n
wedren in Centurion by Pretoria van hul fietse beroof.

Mnr. Fritz Pienaar, organiseerder van die Nissan Down and
Dirty-bergfietswedren wat Saterdagoggend in Irene, Centurion, plaasgevind
het, het gesê dié twee voorvalle het sowat 6?km uit mekaar plaasgevind.

Dié wedren is in beboste dele van Irene gehou. Pienaar het gesê hulle het
probeer om gevaarlike dele uit te skakel en gehoop die groot getal
deelnemers – sowat 2?000 – skrik misdadigers af.

Volgens Pienaar het twee vriende vroeg die oggend, voordat die wedren begin
het, op hul eie naby die wedrenroete gery.

“Drie mans met onderskeidelik ’n panga, ’n mes en ’n gebreekte bottel het
uit die bosse gespring en die mans gedwing om hul fietse te oorhandig,” het
hy gesê. “Die slagoffers het ons toe by ’n waterpunt gewaarsku daar is mense
wat fietsryers beroof.”

’n Paar uur later is ’n man en ’n vrou, die agterste twee ryers in die
30?km-wedren, beroof.

Twee mans het onderskeidelik met ’n mes en ’n koevoet uit die bosse gespring
en hulle gedwing om die fietse vir hulle te gee.

Dié voorval het gebeur in die tyd wat die bestuurders van die voertuig wat
agter die agterste deelnemers gery het, omgeruil het. Dit was sowat 6?km van
die eindpunt af.

Kapt. Colette Weilbach, polisiewoordvoerder, het gesê die moontlikheid word
ondersoek dat dieselfde groep misdadigers vir albei voorvalle
verantwoordelik is.

Pienaar het gesê dit is die eerste keer waarvan hy bewus is dat fietsryers
tydens ’n wedren beroof word.

Volgens Pienaar was daar die afgelope maand verskeie voorvalle in Irene waar
fietsryers óf aangeval óf beroof is.

Verskeie fietsryers het in Januarie vanjaar ook onder misdadigers
deurgeloop.

Mev. Mathilda Barnard (39) is op 7 Januarie bebloed en bewusteloos in ’n
veld in dié omgewing langs haar fiets gekry nadat sy in die nek gesteek is.

Nog minstens drie ryers is in die maand ná dié voorval op dieselfde roete
langs die N1-hoofweg naby die Bothalaan-afrit aangeval en beroof.

- Beeld

--~--~---------~--~----~------------~-------~--~----~
You received this message because you are subscribed to the Google Groups 
"DarkAndDirty" group.
To post to this group, send email to [email protected]
To unsubscribe from this group, send email to 
[email protected]
For more options, visit this group at 
http://groups.google.com/group/darkanddirty?hl=en
-~----------~----~----~----~------~----~------~--~---

Reply via email to